“Hulle droom nie meer nie.”
Só sê die 20-jarige Carmen Barendse van die kinders in die Kalahari. “Hulle gaan net skool omdat hulle niks anders het om te doen nie. Ek wil vir hulle wys dat hulle hul drome moet volg, want dit is belangrik om te droom.”
Dis dié lofwaardige ideaal wat ons raakgesien het, en wat tot gevolg gehad het dat ons, met behulp van die bydraes van ons polishouers, dié besondere jong meisie uit die Kalahari se drome kon help bewaarheid.
Carmen is die agterkleindogter van Elsie Vaalhooi, wie se woorde !ke e:/xarra//ke (diverse mense verenig) Suid-Afrika se leuse geword het. Maar haar ouma-grootjie se historiese woorde ten spyt, was Carmen se grootword nie maklik nie – sy moes haar vormingsjare sonder haar ouers deurbring: “My pa was nog in die skoolbanke en my ma werkloos,” verduidelik sy. “Hulle was te jonk om na my om te sien.”
Sy het by haar ouma en oupa gebly, nadat hulle geskei is, by haar oupa en sy nuwe vrou. Toe haar oupa dood is, het dit moeiliker gegaan. “My stiefouma het baie vir my gedoen en ek is baie dankbaar, maar dit was nie altyd lekker daar nie.”
Toe sy op laerskool was, is sy gekies om aan die TV-reeks Siyaya: Come Wild With Us, vervaardig deur dr. Francois Odendaal, deel te neem. Die reeks handel oor ‘n eksentrieke professor wat saam met ‘n groep kinders Suid-Afrika se nasionale parke ontdek.
Dr. Odendaal onthou haar as ‘n skaam dogtertjie, maar, sê hy, “sy het ‘n vasberade houding om te leer, êrens te kom en die groot wêreld te sien.”
Twee jaar nadat sy gematrikuleer het, het dr. Odendaal haar weer genader vir 'n reeks wat op daardie stadium nog in die vervaardigingsproses was. Hy het besluit om haar te help deur haar in verbinding gebring met Ronel du Toit, sielkundige by die Universiteit van Pretoria. Psigometriese toetse het Carmen se sterk belangstelling in onderwys bevestig, maar haar punte was te swak om by die UP aansoek te doen.
Du Toit se poging om haar te ondersteun het daartoe gelei dat Carmen 'n ope dag by die Akademie Reformatorie se Opleiding en Studies (Aros) in Pretoria, ‘n private hoër-onderwysinstelling wat onderwysstudente oplei, kon bywoon. Carmen het baie daarvan gehou: “Die mense is so vriendelik, die skool is gebaseer op Christelike beginsels, wat belangrik is vir my.”
En dis waar ons, via die Virseker Trust, in die prentjie kom: ons kon vir haar 'n rentevrye studielening gee, en sodoende help om haar ideaal te verwesenlik. En dis suiwer te danke aan ons polishouers se bydraes. Maar ons gaan verder as om net studente wat in Afrikaans studeer by te staan – ons gooi ook ons gewig agter Afrikaanse skolesport en musiek, om sodoende ons taal en kultuur in alle aspekte daarvan te ondersteun.
So, as jy wonder waar jou versekeringspremie heen gaan, is dít jou antwoord: deur 'n kliënt van Virseker te wees, maak jy 'n wesenlike bydrae tot die bevordering van ons taal en ons toekoms.
Bron: Rapport (Gauteng), Eerste uitgawe
Datum : Sondag, Februarie 16, 2020
Bladsy 12